Oscar Niemeyer



Oscar Niemeyer

Brasiliaanse argitek


Skool
Moderne Internasionale Argitektuur


Beduidende projekte
Geboue langs die Esplanada dos Ministérios in Brasília


Toekennings en pryse
Pritzker-prys (VSA) in 1988
Praemium Imperiale (Japan) in 2004


Handtekening

Oscar Ribeiro de Almeida Niemeyer Soares Filho (15 Desember 19075 Desember 2012) was 'n Brasiliaanse argitek en ontwerper wat as een van die belangrikste figure van die internasionale moderne argitektuur beskou word. Niemeyer was 'n baanbreker wat onder meer met die boukundige moontlikhede van gewapende beton geëksperimenteer het. Die Internasionale Styl, wat deur die Duitse Bauhaus-beweging begin is, het in die tropiese klimaat van Brasilië danksy Niemeyer 'n nuwe dimensie van openheid en vryheid gekry.[1]

Niemeyer se geboue word deur baie dinamiese vorms en sinlike boë gekenmerk (die laasgenoemde elemente het reeds in die Brasiliaanse barok-styltydperk 'n beduidende rol gespeel), en sommige van sy bewonderaars verwys na Niemeyer eerder as 'n beeldhouer van monumente as 'n argitek. Die argitektuurkritikus Paul Andreas van die Duitse Argitektuurmuseum (DAM) in Frankfurt, wat in 2003 die grootste Duitse retrospektiewe uitstalling oor Niemeyer se werk gekoördineer het, beskou die vrye vorms van Niemeyer se betongeboue as een van die belangrikste bydraes tot die argitektuurgeskiedenis van die 20ste eeu.[2]

Sy beduidendste projek, die nuwe Brasiliaanse hoofstad Brasília, wat hy saam met Lucio Costa ontwerp het, is deur Unesco in 1987 as wêrelderfenis aangewys – as die enigste 20ste eeuse stad waaraan dié status verleen is.

Terwyl Niemeyer self steeds beklemtoon het dat argitektuur nie net funksioneel moet wees nie, maar met sy kreatiwiteit ook die verbeelding van mense moet kan uitdaag, beweer kritici dat sy geboue nie aan menslike behoeftes voldoen nie, dikwels steriel en amper sielloos gebly het en eerder deur kommunistiese ideale gekenmerk is.[3] Niemeyer het egter steeds ontken dat argitektuur in staat sou kon wees om maatskaplike hervorming te bevorder en die ontwerp van 'n gebou met die skepping van 'n kunswerk vergelyk.[4] Gedurende sy loopbaan, wat oor 78 jaar gestrek het, het Niemeyer sowat 600 projekte voltooi.

Die mens bearbei die natuur en omskep dit tot die toneel van sy verbeeldings.[5]
  1. (de) "Vorarlberger Architektur Institut: Oscar Niemeyer Ausstellung ETH Zürich – Eine Hommage an Oscar Niemeyer". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Desember 2010. Besoek op 19 Januarie 2009.
  2. Focus Online Kultur, 15 Desember 2007: Oscar Niemeyer – Der Betonbändiger wird 100
  3. Focus Online Kultur, 15 Desember 2007: Streitbares Landesidol
  4. Vergelyk Paul, Andreas en Ingeborg Flagge (reds.): Oscar Niemeyer. Eine Legende der Moderne / A Legend of Modernism. Met bydraes deur Paul Andreas, Max Bill, Lauro Cavalcanti, Elmar Kossel, Carsten Krohn, Niklas Maak, Oscar Niemeyer en José Carlos Süssekind. Frankfurt am Main/Basel Boston Berlin: Birkhäuser 2003
  5. werk, bauen + wohnen, nommer 3, 2013. Besoek op 24 Julie 2020

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne